Vier jaar gelede het 'n koeël in die bobeen Alexander Hinkel se kanse om polisiekaptein te word, vernietig. Maar dit het niks aan sy vermoë om deur 'n verdagte se leuens te sien gedoen nie. Inteendeel, sy instink en waarneming is skerper as ooit. Dís waarom sy eks-kollegas steeds aan Hinkel se deur kom klop wanneer hulle vasdraai met ondersoeke. In die stad Agrippa waar misdaad volop is, is daar deesdae meer onopgeloste moorde as wat die polisie kan hanteer, en Hinkel verdien goeie geld uit vryskutspeurwerk. Hy het net één voorwaarde: Hy werk alleen.
'n Vriend uit Janke se verlede, Cut Everson, daag onverwags op en vra vir haar hulp. Hy is onder verdenking vir moord op sy neef, maar beweer hy is onskuldig. Toe hy gearresteer word, belowe Janke om sy onskuld te bewys. Sy vra Hinkel se hulp, maar hy is nie so seker van Everson se onskuld nie... Al die leidrade dui daarop dat hy wél sy neef vermoor het, uit wraak ná dié sy verloofde afgerokkel het. Hinkel hou ook glad nie daarvan dat Janke so betrokke is by die saak nie, en nog minder van die feit dat Cut Everson se storie hom so aan sy eie een laat dink nie...
SOETE WRAAK is die agtste van 'n reeks Afrikaanse whodunnit-novelles deur bekende skrywer Anna Emm*! Dit is die ideale leesstof vir enigeen met min tyd, want hierdie korter novelles kan elk binne 'n uur of twee gelees word. Dis positiewe, aksiebelaaide stories wat jy met 'n geruste hart ook vir jou tieners kan aangee.
* Kyk uit vir die ander novelles in die HINK-reeks!